Tuinroete – Luiperds word meer

Die Landmark-stigting het ’n projek van stapel gestuur om die voorkoms van luiperds en ander roofdiere in die Tuinroete gebied te bepaal.

 

Die eerste gegewens toon dat daar tenminste vyf luiperds is wat reeds in die Tuinroete geïdentifiseer is.

Die Landmark-stigting, wat hulle beywer vir die bewaring van luiperds, het die luiperds gesien tussen Crags buite Plettenbergbaai, Harkerville, Diepwalle, die George-dam, Karatara en die Outeniekwapas.

Die Stigting doen hulle navorsing met behulp van versteekte kameras in die gebied. Tans is daar sowat 100 kamera-strikke geplaas wat waardevolle inligting moontlik maak.

Volgens ’n woordvoerder word etlike duisende foto’s tans nagegaan.

“Wanneer luiperds in ’n gebied aanteel, dui dit op ’n stabiele bevolking. Maar welpies oorleef moeilik weens die gure weersomstandighede, gif wat gegooi word, siektes en selfs slagysters wat opgestel word” het die woordvoerder gesê.