Star fruit / Carambola of in Afrikaans die Sterappel

Hierdie vrug is ’n spesie van Averrhoa carambola, ’n boom eie aan die Filippyne, Indonesië, Maleisië, Indië, Bangladesh en Sri Lanka. Die vrug is baie gewild in Asië.   Die vrug verkies ’n tropiese klimaat maar daar is lande soos Latyns Amerika en die Suidelike gedeelte van Amerika waar dit gekweek word.

In Maleisië en Indonesië en Indië is dit baie gewild. Dit word ook sedert 1995 na Suid-Afrika ingevoer. Hierdie bome word in sommige areas geplant en die vrugte word nie geëet nie, maar bloot aan die boom laat hang vir die mooi daarvan. Die boom word baie groot en moet omtrent 6 meter van mekaar af geplant word. Dit verkies vol son en ’n vogtige klimaat. In tropiese gebiede blom hierdie boom regdeur die jaar en kan tot 180 kg vrugte per jaar produseer. Hulle word ook soms aangeval deur vrugtevlieg en vrugtemot.  Dit sal nie goed in ryp gebiede aard nie. Die boom word in die meeste gevalle geplant omdat dit baie mooi vertoon en ht het donkergroen blare.  Die blomme is pienk tot ligpers.

Die vrugte is 5 – 15 cm lank en is ovaalvormig. Dit het gewoonlik vyf prominente riwwe.  In sekere areas het die kwekers vrugte gepluk  wat tot agt  van hierdie riwwe gehad het.  Dit  hang in trosse aan die bome en die vrugte het ’n effense deurskynende skil.  Die skil is ook dun, sag en voel vetterig. Wanneer die vrugte ryp is, verkleur hulle van groen na geel. Die binnevlies is deurskynend.  Indien die vrug oopgesny word bevat elke vrug 10 tot 12 ligbruin klein plat saadjies of pitjies. Hierdie pitjies is omring met ’n gelatien-agtige lagie.

Die sterappel kan vir nie langer as ’n week by kamertemperatuur gehou word nie.  Hierdie besondere vrug kan rou of gekook gebruik en geëet word.  Hy word gekook en gebruik in soet of suur geregte. Die hele vrug  is krakerig en ferm en baie sappig. Dis die beste om die vrug te eet sodra hy net verkleur het na geel.  Indien die vrug oorryp is, smaak dit nie baie lekker nie. Ryp vrugte is effens soet en bevat nie meer as 4% suiker nie. Dit het ’n suur ondertoon en smaak na ’n mengsel van appel, peer, druiwe en ietwat sitrus-agtig. Groen vrugte het ’n suur smaak en proe net soos groen appels

In Suidoos Asië word ryp sterappels gekook met naeltjies, suiker en soms voeg hul appels by. Die sterappel kan gebruik word as groente, vir konfyt, en ook gedroog word. In die Filippyne word groen sterappels geëet met sout. Die sap van hierdie vrug word ook gebruik is yskoue suur drankies. Dit word dan ook gebruik vir suursuiker (sherbet) en as spesery.

Die sterappel is ryk aan vitamien C en anti-oksidante,  Hierdie vrug bevat egter oksaalsuur/suringsuur wat baie skadelik is vir mense met nierprobleme.

Die sap van die vrug kan gebruik word om ons koperware skoon te maak en ook as bleikmiddel. Nogal handig!!