Sogenaamde Wit weduwee wêreldwyd gesoek

Die Britse Moslem, ­Samantha Lewthwaite, is waarskynlik een van die mees gesoekte vrouens in die wereld en het na bewering vroeër vanjaar in Pretoria, en waarskynlik ook in ander stede, spioenasiewerk gedoen 

Sy is op kringtelevisie gesien hoe sy sekere buitelandse ambassades dophou, maar Suid-Afrika se veiligheidsmagte kon haar nie vaspen nie.

Die “wit weduwee” word deur Interpol gesoek, en verskeie lande het hul “geheime veiligheidsmagte” begin inspan om die vrou in hegtenis te neem wat vermoedelik die bevelvoerder van die Westgate-slagting in Nairobi was.

Dit het intussen bekend geword dat sy ’n wettige Suid-Afrikaanse paspoort besit het, wat eers na ’n tyd gekanselleer is, en wat in die naam van Natalie Webb uitgereik is.

Dit is bekend dat Lewthwaite sedert 2009 tot in 2011 iewers in Johannesburg gewoon het, duisende Rand skuld gemaak het, terwyl sy glo fondse ingesamel het vir die terreurorganisasie Al-Sjabaab.

Die vermoede bestaan dat sy geld by banke “geleen” het en aan die terreurorganisasie oorgedra het.

Intussen is vasgestel dat die “hoogs geheime” Staatsveiligheidsagentskap (SVA), saam met die Valke, ’n taakmag saamgestel het om Lewthwaite se bewegings in die land te moniteer. Hulle sou ook vasstel of sy kontak maak met Islamitiese ekstremiste wat hulle in Suid-Afrika bevind.

In Suid-Afrika het die Joodse gemeenskap ’n veiligheidstruktuur gevestig om Jode in die land te beskerm teen terreuraanvalle. Die organisasie, bekend as di/e CSO word beskou as die Suid-Afrikaanse been van Mossad, en het blykbaar saamgewerk met die SVA van Suid-Afrika, in ’n poging om die vrou vas te trek.

Die CSO organisasie beskik oor hoogs opgeleide mense wat onder leiding van ’n voormalige Israelse offisier staan en is waarskynlik enige tyd net so effektief en goed opgelei as die “Specialised Services Group (SSG),” van Suid-Afrika. Dit is Internasionaal bekend dat die SSG die grootste en mees gesofistikeerde wetstoepassing-agentskap in die land is en het bande met Mossad, die polisie en die Valke.

Die SSG het glo bevestig dat inligting oor die “wit weduwee” aan misdaadintelligensie oorgedra is deur Warren Goldblatt, die uitvoerende hoof van die SSG.

Dit blyk dat die SSG sowel as die CSO, die moontlikheid nie uitsluit, van ’n aanval deur Al-Sjabaab in Suid-Afrika nie.

Die aanval sal waarskynlik op prominente Jode in Suid-Afrika toegespits wees, en daarom kan verwag word dat so ’n aanval, enige tyd in sekere gebiede van Johannesburg kan plaasvind.