Skole sluit in Noord-Transvaal

Die LUR van Onderwys in Noord-Transvaal het bekend gemaak dat sowat 170 skole in dié provinsie gesluit gaan word.

Die LUR, Dikeledi Magadzi, sê die skole word gesluit weens die swak infrastruktuur daarvan sowel as die groot afname in leerling getalle.

Die LUR het die media in Pietersburg ingelig oor die plan van die Departement om sowat 300 skole te laat saamsmelt wat beteken dat meer as 170 skole sal sluit.

Onderwys is reeds etlike jare onder hewige kritiek in Noord-Transvaal. Die swak kwalifikasies van menige onderwysers en die onvermoë van die Departement om die aflewering van skoolboeke behoorlik te bestuur, is maar twee van die probleme wat veroorsaak het dat die provinsie uiters swak presteer.