Siriese oorlog bly strydpunt

Terwyl pres. Obama van die VSA alles in die stryd gaan werp om die kongres se seen te kry op ’n inval in die oorlog geteisterde Sirië, maak sekere verteenwoordigers van die Republikeinse Party hulle gereed om hom teen te gaan.

Die VSA se hardnekkige berigte dat die Siriese regering sy eie burgerlikes met gifgas vermoor het, word as hoofrede aangevoer deur die VSA om ’n inval te regverdig.

Leiers van Rusland is hewig gekant teen die VSA se planne, deels omdat die Russe ’n groot oliepyp het deur die land olie vervoer, wat beskerm moet word.

In die VSA kom die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat vandag byeen en sal die Siriese kwessie waarskynlik die meeste tyd in beslag neem.

Verlede week is die indruk geskep dat die Amerikaanse Kongres die president sal ondersteun, maar nou blyk dit dat daar Republikeine is wat die gedagte teenstaan.

In ’n opname blyk dit dat van die 433 lede in die Huis van Verteenwoordigers, is daar reeds 111 gekant teen enige optrede, 117 sal hulle waarskynlik ook daarteen uitspreek, terwyl 180 sal later tot besluit kom en slegs 25 het hulle onomwonde staan agter Obama geskaar.

In ander lande is daar ook ’n huiwering. Pres. François Hollande van Frankryk, was aanvanklik ’n sterk ondersteuner van Obama, maar het nou van mening verander.

Waarnemers is van mening dat Duitsland moontlik ’n rol vervul het om Frankryk van sy sienswyse te laat afsien.

Intussen het  pres. Basjar al-Assad van Sirië die wêreld, en in besonder, die VSA en Brittanje, uitgedaag om met konkrete feite en getuienisse na vore te kom hoe sy regering skuldig is aan die misbruik van gifgas.

Blykbaar het Assad gewaarsku dat indien sy land aangeval sou word, sy bondgenote sal intree en met mening sal terugslaan.

Die jongste inligting dui daarop dat Obama nie die steun kry wat hy gedink het hy sal kan monster nie.