Riool besoedel plaas

Mnr. Pieter Oosthuyse van die plaas Patryshoek in die Warden distrik was verplig om die hof te nader omdat die munisipaliteit se rou rioolwater sy plaas besoedel.

Dit is die tweede geval in die Vrystaat wat daartoe gelei het dat ’n boer die hof moes nader omdat ’n munisipale bestuurder nie sy werk doen nie, en nie ’n hofbevel gehoorsaam nie.

Mnr. Oosthuyse was verplig om die Hooggeregshof in Bloemfontein te vra om die munisipale bestuurder van Vrede skuldig te vind aan minagting van die hof. Die bestuurder het ’n vorige hofbevel geminag deur nie die suiweringsaanleg van Warden in behoorlik werkende toestand te hou nie.

Die hof het ook gelas dat die besoedelde gebiede gerehabiliteer word, maar dit is ook nagelaat.

Mnr. Oosthuyse sê sy beeste het van die rioolwater gedrink en talle het gevrek. Hy sukkel al sedert 2018 met die munisipaliteit wat nie hulle aanleg in stand hou nie.

Sowat vier weke gelede het dieselfde lot die munisipale bestuurder van Frankfort getref oor presies dieselfde oortreding.