Regime wil hidro-breking goedkeur

Die ANC-regime is besig met voorbereidingswerk om hidro-breking te wettig in die Groot Karoo, te midde van veelvuldige bewyse dat dit onherstelbare skade aan die natuur sal veroorsaak.

Die Minister van Waterwese, Edna Molewa, sê die Waterwet (1998) het tot hede nie voorsiening gemaak vir hidro-breking nie. Hersiening van die Waterwet is blykbaar nou die eerste tree om dié skadelike projek te wettig.

Waarnemers meen dit is eerstens die regime se manier om hulle eie verleentheid en onbevoegdheid, om nuwe werksgeleenthede te skep, te probeer ondervang, want die projek kan ’n groot aantal werkgeleenthede bied.

Molewa het bekend gemaak dat die wysigings in die Waterwet nie gedoen sal word voordat kommentaar daarop, wat voor einde Oktober ingedien moet word, gelewer is nie.

Jonathan Deal, voorsitter van “Treasure the Karoo Action Group (TKAG)”, het gesê

die werksaamhede van die Interdepartementele moniteringskomitee oor hidro-breking is in algehele “geheimhouding” gehul.

Hy meen ook die res van die ANC gaan die eksplorasie van skalie-gas vinnig goedkeur in ’n poging om politieke punte aan te teken met die skep van werksgeleenthede, en met die oog op die verkiesing.

“Ons hou hulle fyn dop. As hulle dit doen, gaan ons hof toe,” het hy gesê.