Regime probeer aansien herwim

Die SA Lugmag se Silwer Valke, het uiteindelik weer in die openbare oog verskyn, met ’n lugskou in Germiston aan die Oos-Rand, na maande se afwesigheid.

Die elite span van vyf vlieëniers het tydens die vertoning, weereens bewys waartoe hulle instaat is toe die toeskouers na asem gesnak het vir hulle perfekte vliegformasies.

Die span, in hul Pilatus Astra-vliegtuie, het mekaar bykans geraak, so naby was hulle aanmekaar terwyl hulle vlugformasies uitgevoer het.

Die Silwer Valke moes etlike maande wag om weer deur die hemelruim te klief weens ’n tekort aan geld.

Die media het so ’n bohaai opgeskop oor die regime se lamlendigheid, dat hulle uiteindelik die begroting moes aanpas om die vlieëniers tot hulle reg te laat kom.

Tydens die lugvertoning het een kommentator die publiek van harte bedank vir hulle ondersteuning aan die span in “hul donkerste uur, toe hulle nie toegelaat is om te vlieg nie”.

Die Silwer Valke, bestaan reeds sedert 1953, en het in April moes aangekondig dat sy vertonings afgelas is vir die hele jaar weens ’n tekort aan fondse.

Volgens kapt. Christo Jansen, die span se woordvoerder, kos dit “honderd duisende Rand” om die span vir ’n naweek soos hierdié al die pad van Langebaan na Johannesburg te laat gaan en te laat vlieg.

Tydens die lugskou was daar ook ander vliegtuie wat mense se harte laat bokspring het. Een vliegtuig het teen sowat 600 km per uur aarde toe geduik, om op ’n laaste oomblik weer die hoogtes in te gly!