Reddingswerk is harde werk

Om sowat 250 oliebesmeerde pikkewyne weer netjies in hulle manelpakke te kry, is harde werk wat ure se geduld verg.

Die voëls wat van Bird-eiland, die Wildernis en Port Elizabeth afkomstig is, was almal slagoffers van die vragskip Kiani Satu, wat verlede maand by Buffelsbaai gestrand het.

Klein kampies is ingerig, waarin sowat 25 oliebesmeerde pikkewyne hul beurt afwag om skoongemaak te word.

As die seevoëls met olie besoedel word, verloor hulle die vermoë om hulle self warm te hou,” sê Wilna Wilkinson, van die Suid-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls (Sanccob).

Die besoedeling laat die natuurlike olie verdwyn op die voel se liggaam,  en dan verloor hulle geweldig baie energie, en kan dus nie in die water gaan nie, en ontwater dus.

Dit is dus noodsaaklik dat die pikkewyne so gou moontlik skoongemaak word, en daarvoor is baie hande nodig om te help.

Voor hulle gewas word, moet hulle eers goed gevoer word om kragte op te bou en hul liggaamstemperatuur na normaal te bring. Hulle kan eers na hulle weer begin gewig aansit, gewas word.

“Dit alles is baie stresvol vir die voël en as hy nie gou genoeg hulp kry nie, sal hy dit nie oorleef nie.”