Petrolstakings meer aggressief

Die stakings by vulstasies, wat verlede week begin het, het tot nou toe nie veel ontwrigting vir motoriste veroorsaak nie weens voldoende bediening deur tydelike personeel wat gebruik word

Die situasie kan verander as daar nie binnekort ‘n oplossing met die stakers se vakbond, Numsa, gevind word nie omdat die frustrasie besig is om op te bou. Daar het reeds gevalle voorgekom waar Numsa lede by vulstasies die tydelike werkers intimideer. ‘n Somaliese petrolbediener in Kaapstad het oor die naweek sy lewe verloor nadat hy deur Numsa lede aangeval is.

Numsa woordvoerders verklaar dat hulle teen geweld is. Die Numsa streeksekretaris in Natal, Mbuso Ngubane, sê dat voorvalle, wat as intimidasie gesien word, slegs so voorkom omdat die werkgewers nie die vakbondlede se kultuur verstaan nie.

Numsa het reeds ‘n werkgewersaanbod vir ‘n salarisverhoging van 7,5% van die hand gewys en sê dat hulle op ‘n beter aanbod wag.