Ons mense in staatshospitale

Een van die plekke waar die verval van ons samelewing die duidelikste is, is in die staatshospitale. Wat dit nog erger en moeiliker maak is dat dit van die behoeftiges onder ons eie mense is wat die swaarste daaronder ly.


Ek is ‘n predikant op die platteland en wil vertel van ‘n ondervinding wat ek gehad het. Die versoek van die familie was dat ek ‘n lidmaat in een van die plaaslike staatshospitale moet gaan besoek. Die gesin is behoeftig en die siekte is chronies.

By die hospitaal aangekom is ek deur die volksvreemde personeel daarop gewys dat ek buite besoektye is, en die enigste taal wat gebesig word is natuurlik Engels. Ek het aangedring op toegang en in Engels gewys daarop dat ek “a pastor is” en nie kom vir ‘n “visit” nie, dit is vir familie en vriende. Die feit dat ek aangedring het daarop dat my koms is “to do a prayer for him” het gemaak dat ek toegang gekry het.

By die pasiënt aangekom het ek bewus geword van sy toestand en hy het veral gekla oor erge pyn op die maag en in die buik en dat daar nie ag gegee word op sy versoeke nie.

By my vertrek het die pasiënt versoek dat ek asseblief by die naaste supermark ‘n bottel water en twee pakkies koeksoda sal gaan koop want dit is al raad wat werk. Ekself wou graag help maar wou nie inmeng met mediese prosedures nie. Wat toe gedoen is, is om ‘n huisdokter met wie ek bekend is te skakel en te vra wat staan my te doen. Sy raad was, help hom so, dit kan nie kwaad doen nie. By die naaste moontlike plek is die water en koeksoda gekry en by die pasiënt besorg.

Wat ‘n onbenydenswaardige posisie waarin van ons siek en behoeftige mense hulle bevind!
Plattelandse Predikant