Onderwys krisis – Onafhanklike skole moet uithelp

Die Minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga het die afgelope week tydens ‘n konferensie van die Vereniging van Onafhanklike Skole van Suider-Afrika ( Isasa) in Sandton, gesê dat hierdie skole ‘n baie belangrike rol in die Onderwys vervul:  Dit is ‘n ryk bron van studente  wat  later as Wiskunde -, Wetenskap- en Engelse Onderwysers opgelei kan word.

Sy het beklemtoon dat die onafhanklike skole ‘n baie belangrike rol te vervul het in vennootskap met die openbare skole. Daardeur het sy bevestig dat sy ook tot die onafhanklike skole verbind is net soos haar verbintenis met die openbare skole.

Isasa het gegroei tot oor die 700 skole met ongeveer 160 000 leerlinge. Hierdie skole word bedien deur 12 000 onderwysers en is ge-affilieer by die Nasionale alliansie van onafhanklike skole (Naisa) wat ongeveer 2 500 onafhanklike skole verteenwoordig.

Dit is duidelik dat die minister weet watter kant van haar brood gebotter is.

Dit is nie ‘n geheim dat die onafhanklike skole ‘n baie suksesvolle  skoolloopbaan vir ons kinders bied en leerlinge wat hier matrikuleer, darem meer kan doen as net hulle name skryf en basiese somme  maak.

Dit sal onregverdig wees om nie ook te noem dat daar in ons land baie skole  is, veral die wat eers ou model C-skole was,  asook openbare skole wat nog gelukkig is om gesoute onderwysers aan die stuur te hê.  In vele plattelandse skole is die ouergemeenskap steeds nou betrokke by die skool en addisionele fondse word met harde werk ingesamel om broodnodige fasiliteite daar te stel. Hierdie ouers het lankal reeds besef dat indien hulle vir die nasionale regering wag, sal hulle skool  stagneer en selfs begin agteruitgaan.

Onderwysers het in die verlede altyd gebrom “ wat in die VSA nie werk nie, word hier by ons as die nuwe wonderkuur aangebied.” Hoekom word “iets wat goed werk, gebreek?” Dit sinspeel op die gewese nasionale kurrikula wat tot en met die aanloop tot die nuwe Suid-Afrika, beëindig is.

Baie kan gesê word oor die gehalte van ‘n matrieksertifikaat. By geleentheid het ‘n lektor van ‘n Afrikaanse Universiteit, gesê,  dat studente vanuit die BCVO agtergrond, baie makliker inskakel as studente uit die openbare skole.  Dit is nie ‘n wetenskaplik bewese standpunt nie, maar dit laat ‘n ouer dink. Die oorbrugging tussen skool en universiteit was maar altyd ‘n probleem.

In die onafhanklike skole en in besonder , die CVO-skole, word ‘n onreg aan ons kinders word op vele terreine aangetref:  Tydens die beginjare  van die CVO-skole moes beheerliggame worstel met die vraag: “Watter kurrikulum gaan julle aanbied?” Dit was in die proses om die skool by die owerheid te registreer sodat ons die beste vir ons kinders kan beding.   Is UGO (uitkomsgerigte onderwys ) nie aangedui nie, is die skool nie geregistreer nie.     

Hierdie skole word ook nie gesubsideer nie en kry ook nie ‘n jaarlikse toewysing waaruit handboeke aangeskaf kan word nie. 

Onafhanklike skole word ook verplig om nes private ondernemings, munisipale heffings te betaal.

Met dit alles in gedagte, laat dit ‘n wrang smaak in die mond as die Minister van Basiese Onderwys, duidelik skimp dat die onafhanklike skole, waarvan ons CVO-skole deel is, ‘n merkbare verskil maak ten opsigte van die gehalte van onderrig van Wiskunde , Wetenskap en vreemd genoeg, ook Engels.