Om te verkwis

Dit is maklik om met ’n ander se geld te werk, en dit te verkwis, veral as die sin vir waardes nie dieselfde is as die eienaars van die geld nie.

Om egter met belastinggeld om te gaan asof dit so volop is soos seesand, is egter iets anders. As dit maar seesand was, dan kon ons daarmee binnelandse strande gemaak het wat vir ’n aantal mense nuttig sal wees.

Die sowat R2 miljard wat verkwis is deur die owerhede met die hantering van boetekaartjies is werklik ’n saak wat die lagspiere sou prikkel as dit seesand was.

Hierdie verkwisting tesame met al die ander gruwels wat die belastingbetaler uitmergel is nie iets waaroor mense moet kwaad word nie –  want dan gaan hulle lewenslank kwaad bly omdat alles gedurig verkwistend gedoen word.

Die feit dat R15 miljoen spandeer is om drie tugverhore af te handel, spreek van iets wat ’n beskaafde Westerling nimmer sal verstaan!

Hierdie week se goeie nuus is dat Augustusmaand se lesers getalle ’n nuwe rekord bereik het. Dit kan maar net toegeskryf word aan die ywer van medewerkers, en lesers wat meer word omdat die nuusberigte meer omvattend is.

Daar is gelukkig ook die mooi berigte vir hierdie week. Lees gerus die tweede aflewering van “Lapa praatjies” en miskien sal dit verstandig wees om ook te oordink wat daar gepraat word in die lapa!

Die grappigste is waarskynlik dat Jan van Riebeeck die skuldige is wat sonder konsultasie met die gemeenskap, Pretoria sy naam gegee het.  Meer ernstig is die uitspraak van ’n dosent wat daarna maar haar bedanking ingedien het by Tukkies.

Daar is ook talle berigte wat weereens die misdaad in die land beklemtoon, maar net so is daar die gebeure wat ’n glimlag afdwing, soos die jongman met sy vleisbraai-episode tot binne in die rekordboeke.

Daar is ook een baie besonderse berig van ’n jong student se getuienis oor hoe hy en ’n vriendin deur die Woord van God, gered is uit die hand van vier aanvallers!

Indien jy iemand is wat die visstokke gebruik, kyk gerus na wat die Volkskool van Brakpan aanbied, en maak dan seker jou naam is op die lys van mededingers.

Moet net nie nalaat om te lees was sê die Sweep nie!

Lees die hele koerant, wat deesdae vinnig en gereeld opgedateer word om u op hoogte van die nuus te bring, met nuus wat saakmaak.

As u nog nie die volle koerant te lese gekry het nie, klik hier op www.dievryburger.co.za en geniet alles wat aangebied word.

 

Redakteur