Motshekga se norme en standaarde

Angie Motshekga spook al vir maande om ‘n konsep dokument op te stel waarvolgens openbare skole deur “minimum norme en standaarde” omvorm moet  word om suksesvol-funksionerende skole te wees.

In openbare skole heers daar tans heelwat omstrede kwessies en het dit al uitgeloop op ‘n paar hofsake.

Daar is nou weer so ‘n konsep dokument in die Staatskoerant en het belanghebbendes tot 11 Oktober  om kommentaar te lewer.

Gelukkig vir die minister bestaan daar die goed gevestigde skole  (meestal voorheen model C-skole) waar die personeel, skool- en ouergemeenskap bereid is om alles op te offer vir hulle kinders. Hierdie skole het reeds bewese norme en standaarde waarvolgens hulle funksioneer.  Ongelukkig is die ervare personeel aan die minder word, al word hulle aangevul deur goed opgeleide jong onderwysers van wie baie erns maak met hulle werk en dit as  ‘n roeping beskou.

Die groot toeloop van leerlinge uit die sg. voorheen benadeelde groepe, veroorsaak egter groot druk op hierdie skole en dit lei eerstens tot die vraag  in watter taal die lesse aangebied moet word. Klasse word al groter en die kinders vir wie skole oorspronklik beplan was, staan nou saam in die ry om deel te word van ‘n nuwe Suid-Afrika. Hulle reg tot besluitneming, soos onder meer die gebruik van hul Moedertaal, word negeer.  Dit begin met enkele klasse waarin die leerders (soos hulle genoem word) in engels onderrig word. Geleidelik word hulle dan meer en gou word die taal van onderrig, engels. Baie ouers is maar tevrede met hierdie stand van sake want “ons is mos nou in ‘n nuwe Suid-Afrika”.

Die minister skryf voor in hierdie konsep dokument, wat die vereistes vir klasgroottes moet wees, voorstelle vir ‘n spesifieke ruimte-grootte vir elke kind en stel selfs voldoende sport- en administratiewe areas voor.

Selfs laboratoriums en die skool se “GPS-koördinate” word genoem.

In die geheel, kan daar baie ten gunste van die voorstelle sowel as kritiek daarteen ge-opper word. Die Afrikaner-ouer moet egter vinnig besluit of sy/haar kind in die roesemoes van ‘n reënboognasie sy opvoeding (eerder onderrig) gaan kry of nie. Ons kleiner kinders aanvaar maklik die gebeure as normaal en so begin die breinspoeling.

‘n Vraag wat opkom,  is elke volk of ras nie self verantwoordelik vir ‘n behoorlike onderwys- en opvoedingstelsel vir hulle kinders nie.?  Dit is tog die basis vir ‘n gesonde ontwikkelingsplan vir kinders.

In die jare sewentig van die vorige eeu, was die vraag:  Hoekom word so min Engelse onderwysers opgelei?  Engelse gemeenskappe het nog altyd swaar geleun op die Afrikaneronderwyser.- so asof dit benede hulle stand was om as onderwysers opgelei te word.

Ons neem kennis van minister Motshekga se pogings, maar is daar nie belangriker kwessies rondom Onderwys wat eerder die aandag verdien nie?