Motor rubriek – Range Rover Sport

Land Rover dateer uit die na oorlogse tyd en was ontwikkel as die eweknie en opposisie van die “army Jeep”. Vandag se dae sien dit anders daar uit en is die Range Rover ontwikkel op aanvraag van duisende Land Rover entoesiaste en kliënte wêreldwyd. Wat aanvanklik ontwikkel was as ’n luukse veld, 4×4 voertuig, moes nog meer verfynd gemaak word. Die resultaat is ’n voertuig wat nie net ’n 4×4 is nie, maar ook luuks en uiters sportief.

 

Wanneer na die werkverrigting gekyk word, kan dit amper op die renbaan tuishoort. Die “Sport” gedeelte van die naam is baie beskrywend. Land Rover ingenieurs het daarin geslaag om die twee wêrelde in een voertuig te kombineer. Dit is gebou vir spoed sowel as gerief en gemak. Padhouvermoë is van die beste en wanneer die outomatiese ratkas na “handrat” geskakel word, is die versnelling nog beter. Die V6 diesel weergawe is wel nie so kragtig soos die druk aangejaagde V8 voertuig nie, maar dit staan nie vêr terug nie.

 

Die versnelling van 0 – 100 km/u, soos deur die vervaardiger aangedui, neem ongeveer 7 sekondes. Wat die voertuig nog meer imposant maak is dat dit net so tuis is in die veld as op die teerpad. Die grond-vry hoogte is 280mm. ’n Bykomende gerief is dat wanneer  in sand of modder gery word, dit ook aangedui word hoe diep dit byvoorbeeld in die sand of modder, verkeer. Die maksimum diepte is 850mm en toerusting is ingebou wat hierdie diepte aandui, en betyds waarsku teen moontlike probleme.

 

Die binne en buite afwerking getuig van hoë gehalte en goeie vakmanskap. Wanneer ’n vergelyking getref word tussen die vorige model en die nuwe,, is daar ’n duidelike verskil – ten goede. Met die vervanging van die vorige model is die verbetering sigbaar. Die bakwerk is van aluminium vervaardig, wat ’n gewig besparing van 39% bewerkstellig. Dit is ongeveer 420 kg ligter as die vorige model.

 

Die tegniese spesifikasies is soos volg: Enjin 2,9 liter en dit is ’n turbo aangejaagde diesel enjin wat 215 kW voorsien en 600Nm wringkrag is beskikbaar, met ’n 8 spoed outomatiese ratkas.

Die Range Rover Sport behoort gedurende November 2013 beskikbaar te wees in S.A. teen ’n prys van nagenoeg R795,000.