Motor rubriek – Land Rover Defender

’n Bekende “kanniedood” voertuig wat aan 4×4 liefhebbers bekend is, is die Land Rover. Hierdie voertuig het deur die jare reputasie opgebou wat ongekend is. Aan betroubaarheid ontbreek dit nie en wanneer daar 4×4 byeenkomste gehou word is dit ’n bekende gesig. Of dit ’n diesel of petrol weergawe is, dit laat dit ten volle geld.

Die Land Rover Defender is in ’n dubbelkajuit weergawe beskikbaar en of dit op die teerpad of in die bos, op grondpad of sand gebruik word, dit is oral tuis. Wanneer dit in die veld gebruik word verseker die kort voor-en-agter oorhang van die bak dat dit oor moeilike terrein gebruik kan word. Wanneer bande gebruik word wat ontwerp is vir rowwe terrein of modder, kan die bykans onmoontlike gedoen word. ’n Verdere hulpmiddel is dat die middel ewenaar “gesluit” kan word en die lae strek rat is werklik laag. Dan is daar ’n verdere hulpmiddel in die vorm van ’n “kruip” rat wat gebruik kan word wanneer steil afdraandes aangedurf word.

Wat veiligheid aanbetref is daar ook nie ’n  tekort aan die nodige toerusting nie. In die voorste gedeelte van die kajuit is dubbel lugsakke geïnstalleer en die remstelsel bestaan uit ABS remstelsel en skyfremme. Onafhanklike veerstelsel sorg dat daar nie veel kritiek gelewer kan word oor die “Landie” se rygerief nie. Dit is ewe tuis in alle pad of veld ry omstandighede.

Aan die tegniese kant bestaan daar ’n goeie balans en die vier silinder, 2198kub. cm turbodiesel enjin is verantwoordelik vir goeie bruikbare wringkrag en die spesifikasies sien soos volg daaruit: 90 kW @ 3500 o.p.m. en 360 Nm @ 2000 o.p.m. Brandstofverbruik soos deur die vervaardiger aangedui is 14,77 liter/100km. Die brandstofhouer hou 75 liter en die reikafstand is 500 km.

Die enigste werklike kritiek wat gelewer kan word is dat met die noodwiel wat op die  kortbak geïnstalleer is, is laaiplek redelik beperk wat dit tot ’n mate onprakties maak as produk vervoermiddel.

Land Rover entoesiaste kan gerus besoek aflê by u naaste handelaar en u gaan verlustig in hierdie voertuig.