Motor rubriek – Fiat Panda

Fiat motors is reeds verskeie jare ’n bekende gesig op ons land se paaie en op ’n stadium was dit ook ’n bekende gesig op die renbane. Daar is gemengde sukses behaal en John Conchie het met sukses ontwikkelings gedoen op Fiat enjins. ’n Bekende ontwikkeling was die OTS reeks wat deur hom ontwikkel is.

’n Baie gewilde motor wat in S.A. bekend gestel is met Fiat se terugkeer na die land, is die Fiat Panda 1.2 liter. Hierdie motor se suksesverhaal wêreldwyd, spreek vir dit self. In die eerste generasie motors was ’n 4×4 model ingesluit. Die nuutste model het ‘n gedaante verwisseling ondergaan. Al die vierkantige hoeke is gerond en dit laat ’n “sagter” indruk wat ’n goeie indruk laat op die oog.

In die binneafwerking is ’n Titanium – afwerking gebruik maar ook glans swart afwerking. Dit is baie smaakvol gedoen en het praktiese voordele. Kritiek kan egter gelewer word oor die sitplekke. Vir die bedekking daarvan, is ligte materiaal gebruik wat maklik vuil sal kan smeer maar deur daarop te let, kan dit voorkom word. Daar is egter nie kritiek te lewer op die sitplek gedeelte nie. Dit is gemaklik en voorsien ondersteuning op die nodige plekke. Benewens die normale toerusting in die kajuit, is daar ook ander bykomende toerusting geïnstalleer waar onder 4 lugsakke, ’n ritrekenaar, ’n aanraakskakelaar vir die voorste elektriese vensters en nog talle ander luukshede. Selfs die stuurwiel is vierkantig – gerond waarop verskeie elektriese skakelaars geïnstalleer is wat toerusting beheer.

In ’n voertuig van hierdie grootte is plek altyd ’n probleem. As dit nie beenruimte is nie is dit bergingsruimte .  Die bergingsruimte in hierdie model is vergroot van 184 tot 192 kub. cm. Alhoewel dit nie aansienlik is nie, maak dit wel ‘n verskil.

Die tegniese spesifikasies sien soos volg daaruit. ’n Vier silinder 1242 kub. cm. enjin is gepas en die kraglewering is 51kW @ 5500 o.p.m. met 102Nm beskikbaar teen 3000 o.p.m. ’n Vyfspoed ratkas word gebruik om die voorwiele aan te dryf en Alfa 15 duim wielnawe verrig die werk op die pad. Brandstof verbruik soos deur CAR motortydskrif getoets, is 6,12 liter/100km. Vir die remme word geventileerde skyfremme op die voorwiele en trommels op die agterwiele gebruik.

’n Interessante brokkie nuus is dat gedurende 2004, ’n Panda 4×4 ’n besoek gebring het aan die basiskamp van die berg Everest wat op ’n hoogte van 5200 meter bo seespieël geleë is.