Motor rubriek – Chevrolet Can Am

Die sewentiger jare was gekenmerk deur die brandstofkrisis van daardie tyd en dit is aan ons ouer garde bekend. In daardie tyd het ons ’n spoedbeperking van 80km/u. op ons nasionale paaie gehad en brandstof was slegs tussen spesifieke tye beskikbaar.

Op die motorsport terrein het ontwikkelings egter voortgegaan soos altyd en dit was in hierdie tyd dat die Chevrolet Can Am 302 V8 deur basil van Rooyen ontwikkel is. Dit was gedoen in samewerking met General Motors van S.A. Hierdie voertuig was beskikbaar aan die algemene padverbruiker maar kon netso op die resiesbaan gebruik word. In eerste rat kon die motor van 0 tot 100km/u. versnel, in 6,3 sekondes. Dit het die motor in die gleuf geplaas wat net vir hoë werkverrigting motors gereserveer was. Bv. van 100km/u. tot 200km/u het dit slegs 11,3 sekondes geneem.

Verrigting syfers sien soos volg daaruit:

0 – 80km/u – 4 sekondes, 0 – 100km/u – 6,3 sekondes, 0 – 120km/u – 8,1 sekondes,  

0 – 140km/u – 9,9 sekondes, 0 – 160km/u – 11,6 sekondes, 0 – 200km/u – 17,6 sekondes

’n Vierspoed Muncie ratkas is gebruik. In Amerika was dit ’n Corvette ekstra en is net op spesiale aanvraag geïnstalleer. ’n Vierkeël Holley vergasser is gebruik en daarmee saam ‘n sportnokas wat tot gevolg gehad het dat 216kW beskikbaar was teen 5800 o.p.m. Die drukverhouding van die enjin was 11,0 tot 1. Die rooilyn op die toereteller het by 6200 o.p.m. begin.

Die Muncie ratkas was ’n nou-verhouding ratkas en die krag is na die agterwiele oorgedra deur middel van ’n beperkte glip ewenaar met ’n verhouding van 2.92. Die wiele was magnesium nawe wat spesiaal vir die Can Am ontwerp was. 185 x 13 bande is gebruik om die voertuig op die pad te hou en daar was nie veel kritiek te lewer wat die  padhouvermoë aanbetref nie.

Die bakwerk van die Chevrolet Firenza GT koepee is gebruik met ’n drukvlerk op die kattebak deksel om die padhouvermoë te verbeter. Vir die binneafwerking is Opel sitplekke gebruik en die instrumentpaneel van die Firenza GT is gebruik wat bestaan het uit ’n spoedmeter, toereteller, horlosie en vier kleiner meters.

Wanneer normaal gebruik was dit ’n voertuig soos enige ander maar die oomblik wat die brandstofpedaal tot teen die vloer gedruk is, het dit in ’n monster ontaard en lang swart strepe op die teerpad agtergelaat. In 1973 is slegs 100 van hierdie motors gebou