Motor rubriek – Audi RS7 Sportback

Audi motors is ’n bekende gesig op ons land se paaie en sedert die begin jare het dit ’n reputasie opgebou as betroubaar, luuks en het selfs motors ontwikkel wat hulle in die motorsport en tydren wêreld bewys het. Die jongste toevoeging tot die Audi reeks is die RS 7 Quatro wat gedurende 2014 in SA beskikbaar gestel gaan word. Alle aanduidings is daar dat dit ’n besonderse motor gaan wees en Audi liefhebbers kan uitsien na ’n voertuig wat die aandag gaan trek.

Tydens die Internasionale bekendstelling van die voertuig was dit duidelik dat hierdie voertuig ’n verdere suksesverhaal kan wees. Die voertuie wat aan die motor wêreld bekendgestel is, was in drie verskillende kleure en het ’n goeie indruk gelaat. ’n Uitstaande kenmerk is dat die verfwerk ’n matafwerking is wat ’n blywende indruk op die motor entoesias laat.

Die voorkant van die motor word gekenmerk deur die vierringe wat in mekaar pas en die handelsmerk van die Audi verteenwoordig. Effe getinte LED hoofligte word gebruik en aan die agterkant van die motor steek groot ovaal uitlaatpype uit wat ’n aanduiding is dat hierdie motor iets besonders is.

 Binne afwerking word gekenmerk deur die hoë standaard waarvoor Audi bekend is. RS logo’s is duidelik sigbaar en is op strategiese plekke aangebring. Die stuurwiel se onderkant is plat en dit verseker dat die bestuurder  goeie beheer daaroor kan uitoefen. ’n Lang lys van bykomende toerusting verseker dat die insittendes ’n gemaklike en luukse rit kan geniet.

Onder die enjin kap is ’n dubbel turboaangejaagde V8-enjin gepas wat verseker dat daar nie ’n tekort aan krag is nie. 412 kw. is beskikbaar vanaf 5700 tot en met 6600 o.p.m. Maksimum wringkrag van 700 Nm. is beskikbaar vanaf so laag as 1750 tot en met 5500 o.p.m. Die vervaardiger eis ’n brandstofverbruik van 9,8 liter/100 km wat inderdaad indrukwekkend is vir ’n motor met bogenoemde kraglewering. Wat dit moontlik maak is die feit dat sommige van die silinders “rustend” word wanneer die motor gelykmatig gebruik word. Dan word silinders twee, drie, vyf en agt uit bedryf gestel en maak dit moontlik vir ’n beter brandstofverbruik. Wanneer dit nodig is om by verkeer verby te gaan is die reaksie blitsvinnig en die versnelling vind moeiteloos plaas. Volgens die vervaardiger versnel dit in minder as vier sekondes van 0 tot 100 km/u. Die permanente vierwiel aandrywing verseker goeie padhouvermoë en padgedrag.

Audi liefhebbers kan uitsien na ’n besonderse motor vir die toekoms.

Terloops, in Junie 1973 het 19,8 liter petrol R2-00 gekos. Ja, u het reg gelees, slegs

R2-00.( Uit my persoonlike voertuig logboek van daardie jare)