Mossie maar vrou!

Mev. Corné Labuschagne (45) was al ’n finalis in ’n skoonheidskompetisie in Sentraal Transvaal, sy is tenger, en op die oog af, ’n weerlose vroutjie wat sommer maklik beroof en besteel kan word.

Maar die diewe het nie rekening gehou met haar wil, en haar skoktoestel nie.

Drie swartes het soos mal goed op die vlug geslaan. Die eerste een is in die maag geskok, en in die proses van padgee, nog ’n paar skokke toegedien op sy agterstewe.

“Die man het getrippel en gehop toe ek die stok vol teen sy maag druk. Ek het hom aanhou skok terwyl hy probeer wegkom, maar toe is daar nog twee mans op my,” het sy gesê.

Sy het die skokstok soos ’n swaard rondgeswaai.

Dit was te veel vir hulle, en het die hasepad gekies.

Die tenger vroutjie van Theresapark, in Pretoria-Noord, sê dit was nie lekker nie, en sy is van nature iemand wat nie so iets kan doen nie, maar as dit moet, dan doen jy dit.

“Ek dink ek was vol adrenalien gepomp,” het sy gesê.

Toe die skurke vlug, het sy agterna gestorm. By die voertuig het een ’n handwapen uitgeruk, en sy het skreeuende agter ’n muur ingeduik.

“Ek dink my geloof het my gehelp. Ek is bonatuurlik gelei om kalm te bly”.