Misdadigers het toegang tot Weermagbasis

Die Wynberg Militêre basis in Kaapstad het die spot van die land geword, nadat foto’s op die internet versprei is, van die vrye toegang wat bendes en misdadigers het omdat heinings en versperrings in ’n chaotiese toestand is.

Tans word sowat 250 sake ondersoek deur die polisie wat in verband staan met misdaad by die basis.

Die onbemande toegangshekke en die stukkende, vervalle heinings rondom die basis, maak van die basis ’n totale bespotting.

Aluminium goedere, sowel as koperware, is deel van die strooptogte wat van tyd tot tyd uitgevoer word deur bendes en misdadigers. Berigte is ook ontvang dat inbrake in die huise van die soldate plaasvind.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, die Minister van Verdediging, erken dat die basis tans oor geen  toegangsbeheer beskik nie, alles “weens ’n tekort aan wagte”.

Geen reaksie is ontvang op die vraag waarom die Weermag self sy soldate laat diens doen soos wat by enige weermag die gebruik is nie.

Waarnemers meen dat die verval deel is van die totale verval in die SANW.