Lapa praatjies

Die gekuier in die lapa het sy voordele. Jy koes vir die hitte van die dag, kry iets koel om te lawe, en hoor sommer by die gaste wat hulle dink van ieder en elke onderwerp wat mens mag aanroer.

Nou lees ek in Die Vryburger van die man met die Griekse vrou wat nou vir die Engelse allerhande goeters gaan probeer wysmaak van hoe moedeloos die mense in die land is. Nou goed, as hy tog net na die volksmoord verwys het, kon dit dalk ’n paar Kakies laat skuldig voel het, want as die spul nie destyds hulle skuldig gemaak het aan ’n volksmoord nie, kon daar, volgens die geleerdes, ietwat meer as 10 miljoen Boertjies hier nes geskop het.

Nou, met kwalik 3 miljoen, wil die FW knaap te kenne gee dat daar ’n moedeloosheid bestaan. Miskien verwys hy na die lot pienk Nattes van weleer wat nou byval gevind het om ’n Prog-baadjie aan te trek. Natuurlik sal hulle moedeloos wees omdat hulle nie die Boertjies se stemme kon werf nie!

Dalk het die vent gedink ons Boere-Afrikaners gaan maak soos hy, om sommer te hensop as hy ’n afbeelding van ’n terroris sien! Noudat ons nie geskrik het nie, nou raak hy sekerlik moedeloos met ons. Seker gedink ons sal almal in die lokasie gaan bly om die Ruwe Suid-Afrika ter wille te wees.

Maar vervlaks, ons is nog altyd de duiwel in vir die vent wat die volk belieg het met sy eie woonbuurte en eie skole en tjeks, wat ook maar later gehop het.

Toe ek dit nou alles vir my gaste gesê het, kom daar nogal ’n besondere reaksie.

Neef Andries, ’n boorling van die Vrystaat, beduie toe dat ons tog ’n bietjie moedeloosheid ervaar met die tweede lot wat nou, soos Milner, sterk pogings aanwend om al wat Boer is uit te wis in hierdie tweede volksmoord.

Hy wys toe daarop dat veldbrande ’n mens sterk herinner aan die verskroeide aarde van 1901 en die hedendaagse moorde, verkragtings en gesteel verskil ook nie juis van die Engelse se manier van doen nie.

Te veel kere is vroue verkrag deur die Tommies, en daardie vroue was te trots om dit bekend te maak. Te veel kinders en vroue het met hulle lewens betaal in konsentrasiekampe. Dit het die vegtendes in Boerekommando’s moedeloos gemaak.

Ja, dis alles waar, erken Jasper, wat tot nou toe redelik sit stil, geluister het na alles, maar ons moet darem onthou, hier is een verskil  – ons vryheidslliewende volksgenote gaan nie hier padgee nie, en ook nie moedeloos word nie, en ook nie hensop nie, want ons ken die vyand en ons is besig om ons eie toekoms te skep.

Ek was verbaas dat neef Andries so gou kon snap dat hy nou sy rieme gaan styfloop as hy nog neuk oor moedeloosheid. Hy reken toe ons behoort ’n fonds te stig om daarmee sekerheid te vestig dat Die Vryburger kan voortgaan met sy roeping om die volkie op hoogte van sake te hou.

Vervlaks Manne, hieroor moet ons praat. Dis ’n pragtige gedagte. Maar ons moet nie net by praat bly nie, ons moet ’n plan maak. Kyk, die Redaksie gee ons letterlik daagliks die jongste nuus, en wat gee ons terug?

Groetnis tot weersiens

Servaas Snyman