Lapa praatjies

Die oeroue verhaaltjie van die gans wat die goue eiers gelê het, het menige kleuter se verbeelding aangegryp.

Nou lees ek in my geliefde koerant, Die Vryburger, dat hier nou al weer ’n getoi-toi is in die land deur ontevredenes wat verkies om te staak, eerder as om ’n dag se eerbare werk te gaan doen.

Dit neem my toe terug na so ’n klompie jare gelede toe ek by ’n vriend in sy kantoor sit en besigheid praat, toe ons die lawaai in die straat hoor – daar in Pretoria. Toe ons uitkyk, sien ons die horde leeglêers wat al jillende en gillende die staat afgestap kom. Vooraan loop twee stewige, totaal oorgewig stakers, en hulle hou ’n plakkaat regop vir almal om te sien: We want jobs, not work

As ek nou so lees van al die niksdoeners wat al weer die strate ingevaar het om hulle misnoeë tekene te gee, bloot omdat hulle nie 130% verhoging kan kry nie, dan wonder ek of dit hoegenaamd sin maak om sulke mense indiens te neem.

Elke jaar beleef Suid-Afrika dieselfde gekerm oor meer geld – meer geld word ge-eis, minder verantwoordelikheid wil hulle aanvaar, tot die getjank gewelddadig word die dag as die gans wat al goue eiers moet lê, finaal styf geskop het.

Miskien sal dit goed wees as een of twee nyweraars, of mynhuise, weer soos verlede jaar, besluit om die deure te sluit sodat ’n klompie, sê so 20,000 stakende toi-toiende niksdoeners, hulle inkomste kan verloor.

Waarskynlik sal hulle dan ook soos ’n paar petroljoggies, besef dat die vakbonde tog almal eenders is, niks voel vir die lede nie, slegs die stakings uitroep vir eie voordeel, onder die vaandel van hoër lone vir almal wat verontreg word..

Dit is nogal interessant dat daar wel enkele pompjoggies was wat nie gestaak het nie, wat ook sê hulle het die dag se loon meer nodig, as om te staak.

Gelukkig is vakbonde maar ’n nietige deel van ons volk se belange. Trouens, dit is ’n struktuur wat weinig waarde het. As jy ’n arbeidsgeskil het, bespreek dit eerder met jou regsverteenwoordiger. Hy doen dit immers professioneel.

Vakbonde het sy oorsprong uit die kommunisme, en vakbonde het oor die dekades bewys dat hulle jou swaar verdiende geld vat om vir die voorbokke duur motors en oorsese reise te betaal.

Die Boere-Afrikaner is te trots op sy werk om aan vakbonde te behoort. Buitendien, hier is nie ’n vakbond in die land wat veg vir die belange van ons volk nie. Die hele lot vakbonde is ’n mengelmoes soos wat FW dit destyds beplan het.

Die dae van ’n suiwer Mynwerkersunie is verby.

Ek kry die indruk dat die spul vakbonde eintlik die mense net leer om ’n klomp leeglêers te word, want oor die geringste sakie raak hulle ontevrede, en dan word dispute verklaar en roep hulle ’n staking uit.

Ek verneem die huidige stakings kos die land miljoene der miljoene Rand per dag.

Dit gaan maak dat die gans gouer vrek as wat vakbonde dink!

Groetnis tot weersiens

Servaas Snyman