Lapa praatjies

As die wêreld  warm word, vlug ek maar na die koelte van die lapa, waar daar sommer kans is om bietjie te dink oor die moet en moenie van die lewe.

Nou lees ek in die einste koerant, Die Vryburger, van al die dinge wat die wêreld nog warmer maak as wat nodig is. Gelukkig dat die koerant ook skryf oor die goeie werk wat gedoen word, en dit sit my aan die dink!

Dis mos nie van vandag af dat daar ’n volkseie, koöperatiewe spaar en krediet, tot stand gekom het in die hoofstad van die land nie! Die stigters was nie net versiende en met wysheid toegerus nie, hulle het ook die hartklop van die volk verstaan.

Ek dink daardie hartklop het nou die polsslag van ’n volk laat versnel. Met die manmoedige stap wat die manne, en ja, daar was ook die dapper vroue betrokke, geneem het, het die Koöperasie die mooi naam gekry van Oranjekas.

Toe ek nou die dag ’n geselsie aanknoop met een van die direkteure, vertel hy my veel meer as waaraan ek sou kon dink! Hy sê toe dat die Oranjekas, wat binne afsienbare tyd ’n volwaardige Koöperatiewe Bank gaan word, die voorloper was vir ’n projek van veel groter omvang, wat in die volksmond bekend staan as die Oranje-projek.

Dis by die aanhoor daarvan dat daar vir my ’n lig opgaan – die Oranje-projek het natuurlik met Oranjekas begin, toe word Oranje Sakekamers gestig, daar in Pretoria, toe aan die Wesrand en so kring dit uit tot wie weet waar.

Asof die einde nie in sig is nie, kom die klomp sakemanne en sakevroue byeen en so stig hulle die Oranje Sake Instituut om die plek vol te staan wat weggegooi is deur die eertydse Handels Instituut, wat net soos Volkskas, weggeraak het in die hele uitverkoop proses van destyds.

Toe, so vertel die direkteur my, kom een man, glo ’n jongerige ingenieur van Pretoria, en hy stig saam met ’n klomp volksgenote die Oranje Nywerheids Ontwikkelings Koöperasie (ONOK) wat sy plek gaan volstaan om te doen, presies dit wat die naam sê!

Vra ek toe, en waar staan die volk se verantwoordelikheid in dit alles?

Nee, se hy ewe nederig, die volkie moet maar aandele uitneem en sodoende betrokke raak in die groter wordende volksekonomie wat ’n plan het wat skrik vir niks.

Dis toe dat ek maar besluit het, hier wil ek ’n paar sikspense in sit soos wat pa en sy tydgenote gemaak het toe Volkskas tot stand gebring moes word.

O ja, en ek moet nou eers vir buurman gaan beduie, hy moet self ook maar iets doen aan die saak.

Groetnis tot weersiens

Servaas Snyman