Kyk na die brein deur venster

 Amerikaanse wetenskaplikes het nou daarin geslaag om ’n venster in te bou in die skedel van ’n mens om sodoende na die brein se funksies te kyk.

Dié nuwe tegnologie maak dit moontlik om binne in die brein te sien, en ernstige neurologiese siektes te behandel, sonder om die skedel, soos wat tans die geval is, herhaaldelik oop te maak.

Navorsers verbonde aan die Universiteit van Kalifornië, het die deursigtige inplanting ontwikkel wat van dieselfde soort materiaal gemaak word as wat in sekere tandkrone en ander inplantings gebruik word.

Mense wat aan bepaalde soorte kanker ly, of ’n erge breinbesering opgedoen het, sal in die toekoms op hierdie wyse, beter gehelp kan word.

Gesofistikeerde laserbehandeling in die brein is baie moeilik by sekere pasiënte, aangesien dele van die skedel herhaaldelik verwyder moet word. Die nuwe tegnologie maak dit aansienlik makliker en sal op die totale behandelings periode ook ’n finansiële voordeel inhou vir die pasiënt.

Prof. Guilermo Aguilar, ’n meganiese ingenieur aan die Universiteit, sê dit mag dalk soos wetenskapfiksie klink, “wat ’n werklikheid geword het, met die moontlikheid om baie mense te help”.