Jaagduiwels vasgetrek

’n Jongman van 32 jaar is in hegtenis geneem nadat hy teen 208 km gery het in ’n 120 km sone op die N12, en daarna nog as rede aangevoer het dat hy vinnig gery het omdat sy sakeonderneming beroof word.

Die polisiebeamptes is toe saam met hom na die onderneming in Alberton, waar alles rustig was en geen rooftog plaasgevind het nie.

Hy is onmiddellik by die Alberton-polisiekantoor aangekla van roekelose en nalatige bestuur.

Enkele minute later is ’n 24-jarige motorfietsryer op dieselfde plek vasgetrek toe hy teen 204 km/h gery het omdat hy “laat was vir werk”.

Sowat ’n uur later is nog twee jaagduiwels op dieselfde plek gevang nadat hulle onderskeidelik teen 169 en 164 km/h gery het.

Al vier is by Alberton se polisiekantoor in aanhouding en sal vermoedelik binnekort in die Palm Ridge-landdroshof verskyn.