Is ‘n hond ‘n hond?

Tans is ’n hewige getwis aan die gang, wat daartoe gelei het dat die saak in die hof besleg moet word, tussen die SA Boerboel Telersgenootskap (SABT) en die Departement van Landbou, oor die benaming boerboel vir dié honderas.

Die Departement van Landbou is van mening dat ’n hond nie ’n boerboel genoem mag word sonder die toestemming van die Departement nie.

Die getwis wat nou ’n hofgeding word handel oor die rasegtheid van ’n boerboel, en wat dit alles mag behels.

Eienaars van boerboele kan glo steeds die SA Stamboek nader wanneer hulle hul boerboel honde wettig wil registreer.

Volgens bepalings van die Dierebeskermingswet is die boerboel reeds as ’n ras verklaar en kan hulle slegs by die SA Stamboek geregistreer word.

Dr. Pierre van Rooyen, die hoofbestuurder van SA Stamboek, sê sodra ’n dier tot ’n ras verklaar is, kan daar ingevolge die wet, ’n telersgenootskap gestig word, wat dan die reg het om die gehalte en standaarde van die ras te beheer.