Internet aankope word gevaarlik

’n Dame van Bloemspruit in die Vrystaat, Tolla Bothma, het gemeen sy kry twee papegaaie gratis as sy net vir die krat waarin hulle versend word, sou betaal. Sy moes net ’n afskrif van haar ID boek stuur volgens die advertensie wat in Junkmail verskyn het.

Volgens die advertensie moes Annemarie Van Tonder van haar papegaaie afstand doen omdat sy in die buiteland liefdadigheidswerk doen.

Wat Tolla nie geweet het nie, is dat Annemarie, net soos sy, met ’n slap riem gevang is. Sy moes R1,800 betaal vir die houers waarin die voëls versend sou word.

Per e-pos het sy ’n afskrif van haar ID dokument gestuur as “bewys van haar bestaan”.

Tolla het die Internasionale lughawe geskakel om te verneem wanneer ’n vlug van Kameroen sou land, net om te hoor daar is nie so ’n vlug nie. Dit het haar gehelp om nie die R1,800 in die rekening van “Annemarie” in te betaal nie want dit was duidelik ’n bedrieëry.

Dit is egter die begin van haar ellende. Etlike dae later het sy begin oproepe ontvang van mense wat sê hulle het die geld op haar rekening inbetaal en wag vir die honde wat hulle gekoop het.

Haar naam swerf nou, met ID boek as “bewys”, die wereld vol op die Internet en mense “plaas bestellings en betaal die geld in op die rekening” om sodoende ’n grootskaalse stelery aan te help.

Annemarie Van Tonder se ID-boekie het valslik op die internet rond gesweef, en nou sweef Tolla se naam die wêreld vol om honde en voëls te verkoop.

Kenners meen dat internet verbruikers nie oor genoegsame kennis beskik om veilige aankoop metodes toe te pas nie, en duisende mense word op slinkse wyse om die bos gelei.