Harde woorde val op G20 beraad

In die doodsnikke van die G20 tweedaagse beraad in St. Petersburg, het harde woorde geval tussen die Russe se mnr. Poetin en Obama van die VSA.

Dit blyk dat mnr. Poetin hard probeer het om nie sy humeur te verloor vir Obama nie. Die spanning tussen die twee was sigbaar en die andersins bedaarde Poetin het met moeite sy emosies in toom gehou.

Obama, bekend vir sy voortvarendheid, het aanvanklik selfversekerd voorgekom, maar Poetin se houding teenoor hom het spanning in Obama verhoog.

Die Amerikaanse ambassadeur by die Verenigde Nasies (VN), Samantha Power, het self ook woorde met bedekte woede daarin, teenoor Rusland geuiter.

Sy het glo gesê: “Selfs ná die flagrante oortreding van internasionale norme teen die gebruik van chemiese wapens is Rusland steeds besig om die Veiligheidsraad as gyselaar te wil hou, en daarmee hul internasionale pligte gruwelik te ontduik.

By geleentheid het ’n Russiese woordvoerder, Dimitri Peskof, Brittanje afgemaak as ’n “ou klein eilandjie waaraan niemand aandag gee nie”.

Later het Peskof ontken dat hy dit gesê het.

Cameron van Brittanje het op ’n stadium gesê dat Poetin “myle vêr van die werklikheid is met betrekking tot Sirië”.

Cameron beweer dat hy nuwe bewyse aan Poetin voorgelê het, van die Siriese regering se daad om gifgas te gebruik, teen die burgery van die land.

Na wat berig word het Poetin verskeie kere herhaal dat ’n inval in Sirië tot die grootste oorlog in die geskiedenis kan lei.

Foto –Poetin en Obama