Goudstaaf is dalk koperstaaf

Alle betrokkenes by die vonds hou asem op oor die uitslag wat spoedig verwag word oor die 7 kg “goudstaaf” wat in ’n plakkershut gevind is.

Mynhuise, sekuriteit organisasies, die polisie en ander belanghebbendes wag om te hoor wat is die uitslag van bevindinge rondom die staaf wat, as dit goud is, meer as R3 miljoen werd kan wees.

In die Vrystaatse Goudveld het daar blykbaar nie goud van dié omvang weggeraak nie, en dit laat die moontlikheid bestaan dat dit moontlik vanaf die Witwatersrand afkomstig is.

Dit is ook bekend dat baie koperkabels in Sentraal-Transvaal gesteel en gesmelt word.

Kenners is van mening dat die staaf met ’n geringe persentasie goud, en verder uit koper saamgestel is.

Die verdagte, Yvonne Mojanaga (50), is intussen gearresteer en op borgtog vrygelaat.