Geldmors met tronke

Swak beplanning. Totale onbeholpenheid. ’n Ongekende vermorsing van geld en tyd.

Parlementslede was gefrustreer oor die gang van sake met die oprigting van nuwe tronke, en die Onafhanklike Ontwikkelingstrust (IDT) en die Departement van Korrektiewe Dienste moes bont staan om te probeer verduidelik.

Die verantwoordelike beamptes kon nie eers verduidelik waarom daar so gesloer word om die bestaande heinings om tronke te herstel en die opgradering daarvan af te handel nie.

Selfs die ANC se LP’s het keelvol geraak vir die eierdanse wat beamptes uitgevoer het.

Die belofte wat verlede jaar aan die parlement gedoen is om sowat 30 tronke se heinings reg te maak, is steeds nie gedoen nie, en kan daar nie verduidelikings voor gegee word nie.

Die bou van nuwe tronke, om aan die groeiende aanvraag te voldoen, kon ook nie met bevrediging verduidelik word nie.

Die tronk in Kimberley het ook ter sprake gekom omdat die oprigtingskoste daarvan gestyg het van R200 miljoen tot R800 miljoen.

“Julle verduidelikings is elke keer dieselfde, dit reën te veel, en onvoorsiene omstandighede kry die skuld vir alles”, het een LP dit uitgespoeg.