Fuchsia hibriede . van die mooiste blomme in die wêreld.. ballerinatjies?

Die Fuchsia is vernoem na ’n Duitse wetenskaplike, Leonhart Fuchs.  Fuchsias  blom oorvloedig vir ’n lang tydperk en die blomme kom voor in verskeie vorms en dubbelkleurig en hang soos klokkies aan die takkies.  Daar is ook nou Fuchsia hibriede wat dubbelblommetjies dra en ook soveel meer kleure beskikbaar.  Gewoonlik is die agterste 4 blaartjies van die blomme een kleur en die klokkie-gedeelte ’n ander kleur, met die stuifmeeldrade wat uithang.  Dit vertoon regtig pragtig in potte wat hoog staan sodat die takkies en blommetjies kan hang.

Fuchsias is meestal immergroen, maar verloor soms hulle blare.  Hulle aard baie goed in potte op die patio en is geskik vir skaduplekke onder die bome.  Daar is van hierdie plante wat pragtig aard in hangmandjies.  Daar is variëteite wat in volson aard.  Hulle hou van ryk, klam grond en het beskutting nodig teen ryp en wind.  Hulle verkies om oggendson te kry maar skadu in die middag.

Hierdie struike hou van gereelde voeding, veral wanneer hulle blom of baie aktief groei.  Voed hulle elke lente met beenfosfaat en weeklikse vloeibare voeding soos nitrosol.  Dit is goed om die plante in laat Julie of Augustus tweederdes terug te sny.

 Fuchsias groei van steggies.  Wanneer dit gesny word kan daar steggies van die eindgroeipunte met ’n paar blaartjies aan gebruik word.  Doop die punte van die steggies in water en dan in bewortelingshormoonpoeier vir sagtehout steggies.  Skud oormaat poeier af.  Plant die steggies in 15 cm potte wat met ’n mengsel van een deel veenmos en een deel growwe riviersand gevul is.  Plant hulle diep genoeg in die voorbereide grond.  Gee water wanneer hul klaar geplant is en hou hulle maar die hele tyd egalig klam.  Beworteling duur gewoonlik vier tot ses weke.  Hierna kan die Fuchsias in afsonderlike potte of in die tuin uitgeplant word.

Tuiniers, probeer gerus om ’n paar van hierdie ballerinatjies op u patio of in hangmandjies op die stoep te plant.  Dit is die mees bevredigende en vriendelikste gesig om elke dag op die stoep uit te stap en begroet te word deur blommende Fuchsias.