Foutbal

Ek het besluit om die toetsbord af te stof en weer ’n bydrae te lewer. Dis is genoodsaak deur die sport bohaai wat die afgelope naweek uitgebars het na die rugbytoets tussen die Springbokke en die All-Blacks.

Die drama het 30 minute in die eerste helfte begin toe Bismarck du Plessis, die bok haker, vir Dan Carter met ’n plettervat van die veld gestuur het. Die Franse skeidsregter, mnr. Poite, het beslis dat dit ’n gevaarlike duikslag was en Bismarck moes vir tien minute gaan rus nadat hy ’n geelkaart ontvang het. Na slegs drie minute in die tweede helfte het Du Plessis met sy voorarm ’n verdediger afgestamp nadat hy die baldraer was. Hierdie was weer gevaarlike spel en na sy tweede geelkaart is hy ’n rooi kaart ontvang. Die bokke moes dus met 50 minute met 14 spelers klaarkom. Dit het die hele Suid-Afrikaanse rugby publiek op hul agterpote en op sosiale media het die skeidsregter behoorlik deurgeloop. Ook is daar verskeie berigte in al wat ’n koerant is geskryf oor die onreg wat die bokke aangedoen is.

Die bokke het die wedstryd uiteindelik met 29-15 verloor.

Kom ons plaas dit in perspektief: Daar is weliswaar met die eerste geelkaart gefouteer. Die bokke was egter reeds agter toe dit gebeur het en ek twyfel of hulle wel die wedstryd sou gewen het. Wat nie in al die artikels genoem is nie, is dat die All Blacks met agt en sewe minute oor in die wedstryd ook twee geel kaarte ontvang het. Die laaste klompie minute het die wedstryd dus plaasgevind met 14 bokke op die veld en 13 All Blacks. Wat my egter meer ontstel, is dat die Suid-Afrikaanse ondersteuners in ’n klomp Jannie Jammergatte verander het wat verskriklik te na gekom is. Hulle kla en kerm oor hierdie verskriklike onreg wat hulle aangedoen is asof dit die einde van die wêreld is. Hierdie wedstryd het ook meer dekking gekry in die media en op sosiale media as enige moord op volksgenote wat daagliks in die land plaasvind. Dit lyk dus vir my asof die publiek meer bekommerd is oor ’n rugby speler wat van die veld gestuur word vir ’n kort tydjie as ’n lewe wat vir altyd verby is. Het ons nie ’n siek volk geword nie!

In ander rugby nuus het die sukkelende Wallabies naelskraap gewen met 14-13 teen ’n verwoede Argentynse aanslag.

Currie beker uitslae:

Vrydagaand het die Vrystaat die Transvalers met 26-23 gewen. Die Transvalers het in die tweede helfte verwoed terug geveg nadat hulle in ’n stadium met 23-3 agter geloop het.

 

Saterdag het die Natallers bloed gesweet in Kimberly. Die Griekwa span het puim rugby gespeel, maar moes die knie buig voor die Natallers met ’n uitslag van 25-24.

 

Die Noord-Transvalers se treurmare duur voort en hulle het teen die Visvoete op Loftus Versveld verloor met 29-18.