Euphorbia tirucalli / Sticks on Fire / Pencil Tree / Kraalmelkbos..

Die beskrywing “sticks on fire” pas uitstekend by hierdie struik of  klein boompie en hy vertoon pragtig in ons tuine, want die punte van die takkies is ligroos / roesbruin tot ligte rooi wat soos brandende stokkies lyk. Dis ook sommer ’n waterwyse boompie hierdie want hy is vetplantagtig.  Hierdie struik is familie van Euphorbiacceae en groei omtrent oral, maar veral in sub-tropiese gebiede.  Daar is omtrent 200 verskillende spesies in Suid-Afrika.  Veertien van hierdie spesies word as bome geklassifiseer.

 

Die Kraalmelkbos het onmiskenbare, borselagtige takke wat soos stokkies vertoon. Hierdie struik word tussen 3 – 5 meter hoog.  Die bas is groen/grys en lyk soos stokkies.  Dit is grof  en het ook knoppe op die bas.  Die kraalmelkbos het kleinerige blaartjies wat ons nie sommer sien nie, want die boompie verloor sy blaartjies baie gou.  Die “stokkies” / takkies is in groepies aan die stam en vertoon slordig.  Dan dra die plant ook klein geel blommetjies wat op die punte van die takkies voorkom en dit verskyn van September tot Desember.  Die plant dra ook klein vruggie in wat in driedelige saadlobbe is. Die sade is ovaalvormig, glad en donkerbruin

Hierdie  plant bevat koolwaterstof en as die takke afgebreek of beskadig word, skei dit ’n giftige melkerige sap af.  Die melksap irriteer die vel en is baie toksies en veroorsaak ook ’n brandgevoel op die vel.  Indien dit in die oë beland, kan dit baie pyn veroorsaak en daar was ook gevalle van tydelike blindheid gerapporteer.  Indien daar van die sap in die oë beland, spoel oë met vars koue water vir ten minste 15 minute en herhaal na ’n paar minute.  Spreek u dokter so gou moontlik indien geen verligting verkry kan word nie.  Indien dit per mond ingeneem word, kan dit die mond, lippe en tong brand.  Dit kan ook die dood veroorsaak, spreek dadelik u dokter.

 

Hierdie melksap kan vergelyk word met die ekwivalent van brandstof.  Die chemikus Melvin Calvin, het voorgestel dat hierdie plante aangeplant word vir die vervaardiging van olie. Dit sal voordelig wees om dit aan te plant vir die vervaardiging van olie, omdat dit in areas groei waar dit droog is en geen ander plante goed aard nie.  Melvin Calvin het bevind dat 10 tot 15 vate olie per akker bereik kan word.  Hierdie plant is ook gebruik in die vervaardiging van rubber, maar was nie baie suksesvol nie.

 

Onthou dis boomplant maand en u kan ’n verskeidenheid pragtige bome plant soos die pragtige Geelkeurboom, Septemberbossie en ook Silwerberk wat rypbestand is.  Van hierdie bome dra die pragtigste blommetjies en lok bye en voëls na die tuin.  U het baie boom / struike om van te kies en te keur.

 

Geniet die lentemaand in u tuin.