Donker Kersfees vir dorpe.

Twee Vrystaatse munisipaliteite se krag gaan op 4 en 6 Desember afgesny word nadat versuim is om elektrisiteitsrekeninge van miljoene te betaal.

Die Maluti-a-Phofung en die Ngwathe-munisipaliteit is bykans R400 miljoen agterstallig.

Gebiede wat geraak sal word sluit o.a. Harrismith, Qwaqwa, Kestell, Witsieshoek, Edenville, Heilbron, Koppies, Parys en Vredefort in.

Paul van der Merwe, bestuurslid van die Harrismith-besigheidsforum, sê Eskom het vir moeilikheid gesoek: "As hulle nie toegelaat het dat die munisipaliteite se skuld oploop nie, sou ons nie nou met die probleem gesit het nie.

"Eskom het hiervoor gesoek en nou gaan hulle dit kry," het hy gesê.

Al die inwoners van die verskillende dorpe wil weet wat die munisipaliteite met die geld maak. Marius Pieters, voorsitter van die Parys-sakekamer, sê vir die dorp, wat ‘n toerisme-aantreklikheid is, is dit sleg. "Parys gaan tot stilstand kom sonder krag," het hy gesê.

Openbare kennisgewings oor die beoogde afsluiting wat in plaaslike koerante verskyn het, nooi partye uit om kommentaar te lewer oor hoekom Eskom nie moet voortgaan met die afskakeling nie.

Stefanie Jansen van Rensburg, Eskom-woordvoerder, sê die munisipaliteite het tot 8 November kans om kommentaar te lewer en betalingsooreenkomste aan te gaan. Die finale besluit sal op 28 November gepubliseer word.