Dis September en boomplantmaand

Dis September en boomplantmaand

 

Dis lente en dis boonop boomplantmaand en tuiniers kan sommer sien die groeityd is hier.  Let op hoe pragtig groen word die grasperke en dis blommetjies net waar jy kyk, veral die pragtige lelies.

 

Die drie bome van die jaar is:  die Kruisbessie/Grewia occidentalis, die Keurboom/Virgilia orboroides en die Poeierkwasboom/Barringtonia racemmosa. 

Die foto wat geplaas is by hierdie artikel is die Kruisbessieboom. Hierdie boom/struik groei vinnig en word tot 3 meter hoog.  In warmer en rypvrye gebiede is die Kruisbessieboom immergroen.  Die boom dra klein ligroos tot ligpers, ster-agtige blommetjies en ná die blommetjies verskyn daar klein vierlobbige eetbare vruggies.  Sekere voëlspesies is baie lief vir hierdie vruggies.  Hierdie bome moet sommer baie water in die somer kry  Dit moet ook gesnoei word om netjies te vertoon.  Die Kruisbessie se wortelstelsel is nie aggressief nie.

 

Die Keurboom is ’n redelike groot boom en kan tot 15 meter hoog word.  Dit groei ook vinnig, so ’n 1,3 meter per jaar.  Dit verkies ook baie water en kan tot 20 jaar leef.  Die boom is geskik vir ons tuine en ook in parke.  Die blare van hierdie boom is grys/groen.  Die boom het ertjievormige blommetjies wat heerlik ruik en voëls en bye na die tuin lok.  Die hout van hierdie bome word gebruik in die maak van meubels.  Die wortelstelsel is ook nie aggressief nie.  Hierdie bome is sensitief vir koue en ryp en moet beskerm word in die wintermaande.

 

Die Poeierkwasboom groei oor die algemeen by die kusstreke.  Die boom word tussen 8 tot 15 meter hoog.  Dit het ’n reguit hoofstam met ’n geronde kroon en groot blare.  Die blomme lyk soos ’n kwassie en is 35m wyd en is aromaties.  Die Poeierkwasboom floreer in vogtige en tropiese areas en aard baie goed in die kusstreke van Suid-Afrika.  Die Zulu’s gebruik die vruggies wat die boom dra om malaria te behandel.  Hierdie boom het ’n aggresiewe wortelstelsel en moet liefs nie naby plaveisel geplant word nie.  Hy is ook gevoelig vir ryp, en kan in droogte oorleef.  In somertyd kan hy baie water gegee word.

Tuiniers, kom ons plant bome hierdie maand.  Daar is soveel om van te kies en dit verbeter sommer ons natuur en dit is darem heerlik om onder ’n koelteboom te sit en ’n yskoue koeldrankie te geniet in die warm somer.

Geniet u tuin in September.