Dieremishandeling – probleem vererger

Die munisipaliteit van Welkom was verplig om sowat 30 boerbok karkasse met ’n stootskraper toe te stoot, aangesien die karkasse ’n gesondheidsgevaar ingehou het vir mense in die omgewing.

Die karkasse kom uit die kraal van ’n sogenaamde Moslem geestelike, wat sy trop bokke agter ’n paar ou huisies langs die Flamingopan, in uiters haglike omstandighede aangehou het.

Blykbaar het baie van die bokke gevrek gedurende die afgelope maande. Die karkasse word dae lank tussen ander bokke in die kraal gelaat, en word later in dromme gegooi. Sodra die dromme oorvol raak, word dit in ’n gat in die grond gegooi wat nie daarna toegemaak word nie.

Die gat is sowat 40 meter van die Flamingopan, en veroorsaak ’n onhoudbare stank asook ’n gevaarlike gesondheidstoestand.

’n Veearts het bevind die diere vrek weens wanvoeding en ontwatering.

Van die bokke wat siek is, moes uitgesit word.

Hy het ook ’n stuk of 20 maer beeste, en die DBV is besig om die hele saak te ondersoek in ’n poging om van die diere te red.

Die eienaar van die vee, ene Norman Kadwa, sê sy boerdery het niks met ander mense te doen nie.

In die Harrismith distrik moes die DBV agtien ou, maer en uitgeteerde renperde van  kant maak, en aan sowat 24 ander perde, moet dringend aandag gegee word.

Die diere is almal volbloed perde wat op die plaas, in haglike omstandighede, aangehou word.

Die DBV het ’n lasbrief bekom en die eienaars sal verantwoording moet doen.