Citypower – bron van kommer

’n Kwartaalverslag dui daarop dat Citypower ’n gemiddelde vergoeding van R40,000 per maand betaal aan sy sowat 1,600 werknemers wat beteken dat sowat R770 miljoen vir die jaar aan salarisse begroot is.

’n Woordvoerder van die kragvoorsiener, Sol Masolo, wil nie die syfers bevraagteken nie, behalwe dat hy meen dit kan oortyd betalings insluit.

Om die “oortyd betalings” in te kort, is ’n nuwe skofrooster opgestel, wat ook daartoe gelei het dat die werkers met ’n staking begin het.

Die staking deur sowat 200 werkers het ontaard en het soos vandaliste die kragnetwerk in Johannesburg gesaboteer wat veroorsaak het dat ’n groot deel van Johannesburg vir etlike dae in donker gehul was.

Dié hoë lone, en geweldige uitgawes met oortyd betalings, is slegs ’n deel van die probleme waarmee Citypower te kampe het.

’n Geweldige stryd word nog gevoer om die krag-diewe vas te vat wat veroorsaak dat miljoene Rand se verliese gely word aangesien 25% van die krag wat Citypower by Eskom koop, deur diewe gebruik word.

Citypower se verliese word vir die jaar op bykans R1,5 miljard gestel.

Waarnemers meen die grootste bron van kommer is die lang tyd wat dit Citypower geneem het om die kragonderbrekings te herstel.

Die stad het intussen sy status as Internasionale stad van uitnemendheid verloor weens die onderbrekings wat dae lank geduur het in van sy beste woonbuurte.