Brief – Verjaarsdagwense


Radio Pretoria sou vandag twintig jaar oud gewees het as die direksie en bestuur nie besluit het om nuwe meesters te begin dien en die volk se radio op die offertafel vir hulle nuwe meesters te lê nie.

Vandag dink ek met waardering terug aan al die onderbetaalde, maar volksbesielde, werknemers wat deur die jare, ten spyte van die las van swak bestuur, daarin geslaag het om Radio Pretoria in ‘n groot mate ‘n werklik doeltreffende, suiwer, waarheiddienende, gerespekteerde volksradio te maak.

Van daardie personeel is nou reeds oorlede en ander is uitgedryf omdat hulle beginsels nie buigsaam genoeg was om by die direksie en bestuur se nuwe strewes en laer standaarde te pas nie.

Vandag betuig ek my hoogste lof en dank aan daardie personeel wat Radio Pretoria opgebou het as bate vir ons volk. Hulle was getrou en hulle het veel meer as hulle plig gedoen.

Ek treur ook vandag omdat daardie mense se goeie werk vandag algaande ongedaan gemaak en afgebreek word: Die bestuur en direksie se aanslag teen Radio Pretoria as volksradio het begin met die destydse waansinnige besluit om die volk se geliefde “stasie te velde” te verstedelik. Dit het die einde beteken van die gesellige, besielende volksaamtrekke by “ons toring” en die eendragtigheid en warm volksontwaking wat daarmee saamgegaan het. Daarmee het die direksie en bestuur daarin geslaag om die momentum van heilsame volkwees wat die “stasie te velde” opgewek het te stuit.

Hulle finale dolksteek in Radio Pretoria se rug was waarskynlik hulle skandedaad om die Vierkleur uit Radio Pretoria se embleem te ruk en dit met ‘n tandepastastrepie te vervang, waarmee hulle die eens waardige Radio Pretoria tot Radio Aquafresh verkruppel het, en wat as ‘n verklaring beskou kan word dat die eens trotse strewes nou verander het – en sedertdien voer hulle die radio van laagtepunt tot skokkende laagtepunt.

Vandag word Radio Aquafresh toenemend die naprater en bevorderaar van die ANC se vreemde plekname, die dienstige spreekbuis en lofsanger vir volksvyandige politici, die voorprater en verdediger van brabbel-Afrikaans, die profeet vir die volksvernietigende gemengderugby-afgod en die toonbeeld van onprofessionele radio.

Toe ek twintig jaar gelede Radio Pretoria se eerste uitsending gehoor het, het ek trane in my oë gekry van trots en dankbaarheid omdat dit so mooi, so suiwer, so reg, so waarheidgetrou en so volksdienstig was.

Vandag, twintig jaar later, kry ek trane in my oë van smart omdat die direksie en bestuur daardie eens trotse radio tot ‘n wanstaltige karikatuur afgebreek het en nog steeds besig is om na nuwe, immer laer, laagtepunte te beweeg. Radio Pretoria is nie meer nie.

Buks Barnard