Brandstofprysverlaging

Motoriste kan uitsien na Woensdag, 2 Oktober, se maandelikse hersiening van die petrolprys.

Die prys van petrol verlaag Woensdag met 20c en 19c per liter onderskeidelik vir 95 en 93 oktaan petrol. Diesel verlaag met 2c per liter op beide grade. LP gas word gemiddeld met 40c per liter verlaag.

Die brandstofprysverlaging is deur verskeie faktore meegebring. Die nuutste, meer gemaklike, samesprekings met Iran oor hulle kernkragontwikkeling en die kompromie in Sirië oor die prysgee van hulle chemiese wapens het groter sekerheid met die internasionale lewering van ru-olie verleen, wat volhoubare voorsiening versterk. Die rand se wisselkoers, met ‘n geringe verbetering, het ook die laer brandstofprys ondersteun.

Die prys kon verder verlaag het, maar die finale ooreenkoms met die stakende petroljoggies, wat ‘n loonverhoging van 11,6% (byna dubbeld die amptelike inflasiekoers) vanjaar en 9% vir aanstaande jaar verkry het, het tot gevolg gehad dat daar ‘n bedrag van 4,9c per liter in die nuwe brandstofprys ingebou moes word.