Boom Aalwyn / Aloe barberae of Aloe bainesii

Die boom aalwyn het geen bekendstelling nodig nie. Dit is een van die mooiste fokuspunte in ons tuine en hy is inheems. By die meeste kwekerye staan hy net bekend as die bainesii. Hierdie boom is ’n spesie van die aalwyne en word in baie tuine, veral die warm en droë gebiede aangetref. Dit is ’n pragtige ornamentele plant.

Dit is eintlik ’n woudplant wat veral in die Natalse, Oos-Transvaalse en Mosambiekse woude aangetref word. Aloe barberae is Afrika se grootste aalwyn. Hy is rypgevoelig en ons moet hom ook nie te veel water gee nie, veral nie in die winter nie. Indien hy te veel water kry, sal hy verrot en sal dan sommer ook omval. Hierdie boom aalwyn word tot 20 meter hoog en sy stam word tot 1 meter dik.

Hy dra salmkleurige blomme aan ’n stingel en hierdie blomme lok verskeie voëls en bye na die tuin en ook vir bestuiwing.

Die Aloe barberae is deur Mary Elizabeth Barber in Transkei gevind en sy het die van die plant en sy blomme na die Koninklike Botaniese Tuin in Kew gestuur, en  in 1874 is dit na haar vernoem deur William Turner Thiselton-Dyer. Dit was in 1873 ook in Natal gevind deur ’n skilder genaamd Thomas Baines. Hy het ook ’n plant na Kew gestuur en dit is toe genoem Aloe bainesii. 

Die boom aalwyn kan met steggies geplant word. Sny ’n tak van die boom af en laat hom uitdroog vir ’n week of twee voordat u dit plant. Dit groei baie maklik en verkies goed gedreineerde grond. Dit  kan in ligte skadu geplant word wanneer dit klein is, maar verkies volson. Hierdie is ’n redelik geharde plant en vertoon baie mooi saam met vetplante in die tuin. 

Hierdie boom aalwyn het ’n aggresiewe wortelstelsel en moenie naby plaveisel of mure geplant word nie. Aangesien dit lyk of dit ietwat droog is hier in die Transvaal, is dit dalk ’n goeie idee om ’n boom aalwyn in die grond te kry. 

Geniet u tuin en kom ons plant maar nog ’n paar bome.