Bietjie tradisie in die vreemde

Die tradisie van braaivleis het neerslag gevind in die vêrte toe daar op feestelike wyse braaivleis gemaak is met die herwinning en vlot-maak van die Costa Concordia, wat deur ’n span gedoen is waarvan ’n Suid-Afrikaner aan die spits gestaan het.

Van die span wat die merkwaardige prestasie behaal het, was ’n hele aantal van Suid-Afrika.

“Ons het ’n spitbraai gehou en die grootste vark wat ek nog gesien het, was op die spit,” het Kevin Kelly van Port Elizabeth glimlaggend vertel.

Twaalf Suid-Afrikaners was deel van die span van 500 wat uit 25 lande saamgewerk het om die geskiedkundige prestasie te behaal.

Die man in beheer van die operasie, Nick Sloane van die Wes-Kaap, het sy opleiding om die werk te doen, in Kaapstad en omgewing opgedoen.

Hy sê die mense van die eiland Giglio dra hom op die hande en behandel hom soos ’n koning, maar hy is trots op die hele span wat uitstekend saamgewerk het om ’n sukses daarvan te maak.

Kenners meen dat Sloane met die suksesvolle operasie, kan verwag om wêreldwyd aanbiedinge te kry.

Foto –Nick Sloane