Agge-Neethling

Dit kan seker nie verder vermy word nie. Die Sweep sal sy klap moet klap. As ‘n man opgelei word as ‘n loodgieter moet hy met lood werk en met gieters, nie met skrumskakels nie. Prof.Dr.Ds.Pk.(Lg. Staan vir laasgenoemde, die Pk voor dit staan vir paneelklopper!) Neethling leef wel met sy kop in die porseleintrompet, maar dit is ongelukkig metafories en nie om die ding te herstel nadat die premier van die Noord Kaap na R53,000 se kitskos die strukturele integriteit daarvan kom toets het nie.

My verbeelding hardloop egter nou weer weg met my loodgieter-voorbeeld. Antoon is ‘n paneelklopper, maar die punt staan. Joost se probleem is nie in die bakwerk nie, maar die bedrading, so tensy jy ook ‘n elektrisiën is, los die man uit! Nou gee jy ‘n sterwende en desperate man valse hoop deur met al jou Star Wars speelgoed rondom die man se aura te vroetel. Jy speel Luke Skywalker en hy dink hy word genees!

Die ergste van alles is dat daar nog mense is wat vir Antoon verdedig! Hulle kyk na die foto wat Neethling op Gevreetblad plaas van Joost in ‘n rolstoel, al kwylende en met ‘n stuk binddraad wat een duim van sy drupstaander af reguittrek en as Neethling dan onderaan skryf “Kyk hoe op en wakker is Joost!” dan is daar wraggies mense wat begin hoop dat hy ‘n terugkeer tot rugby sal maak! (Nie dat ek nie dink hy sal ‘n verbetering kan bewerk by die bulle nie, maar dit is nie die punt nie)

Agge-nee. Wat de Joost gaan aan met die mense! Dit is te erg. As jy siek is, gaan dokter toe! As jy jou kar stamp, gaan paneelklopper toe. As jou paneelklopper sê dat die skade onherstelbaar is gaan jy mos nie die motor na die sielkundige toe neem en vra dat hy ‘n bietjie daarmee moet praat nie! Dalk ‘n bietjie hipnose moet probeer of slaapterapie nie!

My kop pyn nou skoon om net hieraan te dink, ek dink ek moet twee moere insluk en onderstebo uit die boom gaan hang. As dit nie beter word nie sal ek maar na die plaaslike horlosiemaker gaan en ‘n foto op die internet plaas wat duidelik wys hoe siek ek is! Bel die koerante!

Tot volgende slag

Die Swaap