Ag, man, dis lekker in die onderwys!

Ter wille van al sy lesers wil die Sweep hierdie week eers daarop wys dat die slag wat hier geslaan word nie sal sinmaak as Die Vryburger nie eers gelees word nie. Die Sweepslag is ’n humoristiese rubriek wat draak steek met sake in die nuus! Om ‘n draak raak te steek is uiters moeilik as die steker nie weet wat die draak is nie! As die leser dus nie bewus is van ‘n draak nie, sal hy dalk die steek van die draak verwar met die skiet van ‘n likkewaan! Dan mag hy dalk in reaksie daarop lelik reageer of ‘n “red die likkewaan”-veldtog begin!

So gepraat van skiet, as jy nie wil hê dat dit met jou moet gebeur nie, moet jy maar weermag toe gaan of by die polisie aansluit! As jy in hierdie land opwinding soek soos vuisgevegte, messtekery of skietgevegte moet jy in die wilde beroepe inklim soos boerdery of die onderwys! Daar sal jy verseker ‘n loodpil proe. As jy in hierdie demonekrasie die kryt opneem (en ja, ek bedoel kryt, nie kruit nie!) is dit net ‘n kwessie van tyd voor jy in die naaldwerkklas sit met ‘n rooi stoflap om jou kop gebind terwyl jy ‘n patroon met ‘n vleismes vanuit die hotelskoolkombuis uit jou skouer uit grawe. Dit is hier waar jy die botteltjie soutsuur uit die wetenskapklas en die stuk skerpgemaakte houtwerkprojek naby moet hou, want as jou aanvaller sy graad 3 rapport oopmaak gaan hy die magasyn leegmaak en dan is dit jy en hy in naby hand tot hand gevegte!

Ja, nee. Die onderwys is waar jy wil wees as jy avontuurlus het. In Suid Afrika doen ons vol kontaksessies met leerlinge! Dit klink nou alles rof, maar misdaad is wel onder beheer en binnekort sal die land selfs misdaadvry wees! Die feit dat moorde, pogings tot moord, rooftogte, verkragtings en inbrake styg is gelukkig nie aanduidings van stygende misdaad nie. Dit is waarskynlik net ‘n aanduiding dat meer mense hierdie dinge nou as beroep bedryf, wat natuurlik beteken dat werkloosheid daal!

Ai die regering wil, blykbaar soos die kinders van die land, maar net nie leer nie!

Tot volgende slag

Die Sweep