Afgetrede speurders heraangestel

Die polisie het te veel onopgeloste sake wat reggestel moet word, en daarom gaan afgetrede speurders weer terug geroep word om dié tekortkoming reg te stel deur hul ervaring aan te wend, maar ook om as mentors op te tree vir die jonger garde.

Genl. Riah Phiyega, Suid-Afrika se polisiekommissaris, het gesê  dat afgetrede speurders se ervaring en kundigheid die SAPD geweldig baie kan help om misdaad te bestry.

Suid-Afrika se misdaadrekord word gedeeltelik toegeskryf aan die onvermoë van die polisie om misdadigers vas te trek. Verder is die groot aantal lede van die polisie wat by misdaad en korrupsie betrokke is, ’n geweldige probleem.

Die publiek is vuisvoos weens die vlak van misdaad, en die polisie se swak beeld word deur misdadigers benut wat die misdaad vlakke nog verder verhoog.

Meer as 600 speurhoofde het saam met Phiyega beplan oor metodes hoe misdaad hokgeslaan kan word, en ’n 10-punt plan is opgestel.

Waarnemers het opgemerk dat ’n 12-punt plan etlike jare gelede opgestel is deur die SAPD om misdaad vas te vat, maar die planne is nooit tot uitvoering gebring nie. Vrae word ook gevra oor die feit dat ’n senior bestuurder, genl. maj. Bethuel Zuma, strafregtelik vervolg word, terwyl die polisiekommissaris nie eers bewus is daarvan nie, en dan later die aanstelling moet terugtrek.