$280 miljoen om raaisel op te los

Cape Canaveral, Florida. – Toe die laaste Apollo-ruimtevaarders sowat 40 jaar gelede die maan besoek het, het hulle met die terugkeer ook ’n raaisel saamgebring. Daardie raaisel gaan die wetenskaplikes van die VSA nou probeer oplos deur ’n robotiese ruimtetuig te stuur om die feite te versamel.

Apollo-bemannings het toentertyd die vreemde verskynsel waargeneem dat daar kort voor sonsopkoms ’n eienaardige gloed op die maan se horison te sien is.

Een van die ruimtevaarders het glo ’n skets probeer maak van die verskynsel.

Die vreemde verskynsel vind plaas te midde van die feit dat die maan oor geen atmosfeer beskik. Die son se lig kan dus nie weerkaats word soos wat op aarde voor sonsopkoms gebeur nie.

Die navorsers meen dat elektriese ladings dalk daarvoor verantwoordelik kan wees om stofdeeltjies op te blaas om in die lug te kom, maar daar is tot hede geen klink klare verduideliking nie.

Dié raaisel moet nou opgelos word deur die Ladee ruimtetuig (Lunar Atmosphere and Dust Environment Explorer) wat die feite moet versamel.

Die hele operasie sal sowat $280 miljoen kos en bevat geen waarborg dat die raaisel opgelos gaan word nie.