Zuma-wagte skiet roekeloos

Die roekelose optrede van twee lede van die presidensiële beskermingseenheid het daartoe gelei dat hulle in die hof beland het omdat hulle tydens ’n sogenaamde pad-woede voorval, woes begin skiet het op ’n motoris.

 

Die twee lede van die Beskermingseenheid het teen ’n verbysterende spoed gejaag toe hulle vanuit ’n ampsmotor op die motoris geskiet het en daarna weg gejaag het.

 

Dit het op die N12 hoofweg tussen Klerksdorp en Potchefstroom gebeur, maar hulle is uiteindelik in die Bloemhof omgewing voorgekeer.

 

Hulle staan tereg op aanklag van roekelose bestuur en poging tot moord. Albei is vrygelaat op borgtog van R3,000 elk.

 

Getuienis is in die hof aangehoor van ’n koeël wat die motoris se voertuig getref het en dat verskeie skote uit die ampsmotor gevuur is.

 

Die een beskuldigde het beweer die motoris het ’n vuurwapen op hulle gerig en dit is waarom hy vanuit die wit Polo ampsmotor geskiet het.

 

Mnr. Schalk Enslin, die motoris, sê hy besit nie ’n vuurwapen nie en die beampte het hom en sy vrou geterroriseer deur hulle eers aan te gluur, toe op die voertuig geskiet het, daarna hulle gedwing om stil te hou en toe ’n vuurwapen gerig op sy vrou en haar in vuil taal verskree het.

 

Omdat hulle nie polisie-uniforms aangehad het nie, en die voertuig nie ’n polisie kenteken het nie, was hy onbewus daarvan dat dit polisiebeamptes was. Hulle het vir hulle lewens gevrees.

 

Ooggetuies het intussen nader gekom en toe jaag die twee beamptes weg.