Zimbabwe dreig VSA en Britte

Die president van Zimbabwe, Robbert Mugabe, het in ’n toespraak gesê daar is ’n aansienlike getal Britse en Amerikaanse maatskappye in sy land, wat tot nou toe baie goed behandel is deur sy regering.

 

Hy het op sy kenmerkende wyse voortgegaan en gesê dat die situasie op ’n stadium kan verander, want Zimbabwe se geduld gaan opraak.

 

Die uitspraak kom na aanleiding van die sanksies wat steeds teen Mugabe en Zimbabwe toegepas word.

 

Hy sê die twee lande moet hom nie bly treiter en irriteer nie. Die betrokke lande moet weet dat as hulle na Zimbabwe slaan, dan gaan Zimbabwe ook slaan want hy gaan nie nie onbepaald voortgaan met die huidige passiewe houding nie.

 

Waarnemers meen dat Mugabe en sy party die verkiesing so gemanipuleer het dat dit nie as vry en regverdig beskryf kan word nie. Die knoeiery met verkiesings kom al ’n geruime tyd, en is een van die redes waarom sanksies teen Mugabe van toepassing gemaak is.

 

Maatskappye soos Zimplats, ’n filiaal van Impala Platinum en Anglo American is deur Zimbabwe geforseer om die meerderheidsbelang in die maatskappy aan Zimbabwiërs te verkoop. Die vermoede bestaan dat kleinhandel maatskappye nou in die slag sal bly.