Wilgehof Skors Leerkrag.

 

Die beheerliggaam van die Laerskool Wilgehof in Bloemfontein het ‘n onderwyseres wat na bewering ‘n rassistiese opmerking gemaak het, geskors, sê die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU).

 

Die sekretaris van SAOU in die Vrystaat, Magda Strydom, sê die skorsing kom na ‘n vergadering tussen die skool se beheerliggaam en die Vrystaatse Departement van Onderwys.

 

Hierdie is die derde skorsing van ‘n leerkrag in minder as drie maande. ‘n Wraaksugtige ouer, Craig Thiem het klagtes teen Mac Kay en die skoolhoof Fanie Roeloffze gelê. In Kay se geval is dit ‘n klag van aanranding oor ‘n voorval wat ‘n jaar gelede plaasgevind het en teen Roeloffze omdat hy nie opgetree het nie.

 

‘n Klag teen die persoon by die snoepiewinkel kon nie voortgesit word nie, aangesien die persoon deur die skool betaal word en nie ‘n amptenaar van die departement is nie.

 

Die nuutste herrie is a.g.v. ‘n klagte van ‘n skoonmaker wat die onderwyseres daarvan beskuldig het dat sy die k-woord gebruik het.

 

Strydom is van mening dat die Onderwysdepartement druk op die beheerliggaam geplaas het om die onderwyseres te skors, nadat vier amptenare by die skool opgedaag het om ‘n skorsingsbrief aan die leerkrag te oorhandig.

 

Hulle het egter uitgevind dat sy ‘n beheerliggaamspos beklee en nie deur die Departement kan geskors word nie.