Wie gaan Zuma Karwei?

Ernstige implikasies vir die internasionale vervoer van pres. Jacob Zuma en ander BBP’s, is die gevolg van BBP-vlieëniers wie se internasionale bevoegdheid verval het.

 

Die lugmag se finansiële verknorsing is nou reeds die oorsaak dat drie van die vlieëniers by 21 Eskader, die BBP-eskader, nie mag vlieg nie omdat hulle bevoegdhede verval het.

 

Sou daar noodgedwonge in die toekoms van onbevoegde vlieëniers gebruik maak, kan die lugmag se vliegtuie in bepaalde gebiede se lugruim verbied word omdat dit teen internasionale lugvaartreëls is.

 

Indien pres. Zuma aan boord is, kan dit ‘n yslike verleentheid word. By 28 Eskader, wat ondersteuningsvlugte na die buitelandse vredesontplooiings onderneem, sit van die vlieëniers gestrand.

 

Die bevoegdheidsopleiding word jaarliks in vlugnabootsers in die VSA en in Brittanje gedoen. Die kursusse kos sowat R1.5 mijoen tot R2 miljoen en die koste darvan is reeds betaal, maar die lugmag het nie geld vir die koste van die vliegtuigkaartjies en buitelandse verblyf nie.

 

Gevolglik word die kursusse op die nippertjie gekanselleer en verloor die lugmag die geld wat vir die opleiding betaal is omdat daar nie vir die mindere uitgawes betaal kan word nie.

 

Daar is reeds drie kursusse vir die vlieëniers van die Boeing-sakestraler (BBJ) van Zuma gekanselleer, sowel as twee vir die Falcon 900 (die adjunk-presidensiële straler) en twee vir die Falcon 50 (ander BBP’s).

 

Die bemanning van 28 Eskader kan hulle nabootser-opleiding verniet by die Amerikaanse lugmag doen, maar die lugmag wil steeds nie vir die vliegkaartjies en verblyf betaal nie.